Drie-dag stap in Jonkershoek, 9 – 11 Februarie 2024

Deur Francia Morris

In 2023 het ‘n groep van ons die Jonkershoekberge in gevaar op soek na Hauptfleisch se grot, maar na afloop van die stap, is daar besluit dat daar verdere ondersoek na hierdié berugte grot nodig is.

In sy artikel van 1908, skryf Jan Hauptfleisch sy verhaal van ‘n grot waarin hy geskuil het tydens ‘n sneeustorm op Victoriapiek. Sy skuilplek is ‘n grot met beskrywings wat maar net nie by die grot bo-op Kurktrekkernek – wat ons as Hauptfleisch se grot ken – pas nie. Dit is wel die grot wat Thorpe in sy joernaal artikel van 1909/10 beskryf het.

So vertrek ons in Februarie 2024 op ‘n tweede grot-soek ekspedisie. Vrydagmiddag stap nege van ons op met Bergriviernek in heerlike koel weer en teen skemeraand slaan ons ons tente by die reënmeter voor Victoriapiek op. Dié nag is dit bitterlik koud en ons bibber in die middel van Februarie. Later die aand sak daar ‘n sagte reëntjie uit wat heel aand op ons tente sing terwyl die  graspolle maar net nie hulle lê wil kry nie.

Die volgende oggend met ontbyt is dit steeds koud, maar die wolke oor Victoriapiek keer ons nie. Nadat ons Hauptfleisch se artikel weer gelees het, stap ons na die nek tussen Dwarsberg en Victoriapiek. Ons kyk heelwat rond vir die grot en maak ook sommer ‘n paar dennebome van kant.

Op ‘n kaart in sy boek, Jonkershoek en sy berge, dui Ernst Lotz ‘n grot anderkant die nek op Dwarsberg se hang aan – ons besluit om te gaan kyk. In die nek lees ons eers weer Ernst se 1972 joernaal artikel, Hauptfleisch se raaisel. Ernst het ook dié betrokke grot gaan soek, maar die een wat hy op Dwarsberg vind was egter ‘n groot teleurstelling en nie Hauptfleisch se grot nie. Ons sien die grot teen die hang en besluit, ag nee wat, ons is nie lus vir die moeite na die teleurstellende grot nie – Victoriapiek klink beter.

Bo-op Victoriapiek vind ons onsself in die wolke en kry net so nou en dan ‘n vinnige blik op die uitsig. Ons soek die stempel, maar kry net twee boekies in ‘n ou koekblik. Coos gaan verken die diep kloof tussen Victoriapiek en Emerald Dome en ek gee ‘n sug van verligting toe niemand Emerald Dome wil gaan klim nie. Die wolke lig uiteindelik en ons kan die vertes in kyk – dit stel definitief nie teleur nie en is ongelooflik mooi. Oppad terug saag ons sommer nog ‘n paar dennebome af.

Na middagete gaan wys Albert vir ‘n klomp van ons waar Hauptfleisch se grot, of sal ek eerder sê, Thorpe se grot is. Party van die groep besluit egter om eers laag te lê, maar gaan swem tog later tussen die pragtige disas. Moeg, maar tevrede, klim ons al sommer voor donker in ons tente.

Sondagoggend groet ‘n pragtige windstil dag ons en met almal se sakke wat bietjie ligter is, besluit ons om die langer Panorama roete via Swartboskloof terug te neem. Bo by die uitkyk het party van ons ons ‘big boy pants‘  aan en gaan trotseer die klouters van Pic-Sans-Nom. Af met die zig-zag klippe pad bak die son behoorlik, maar gelukkig bied die riviertjie ‘n heerlike lafenis voor ons die karre bereik.

En die raaisel van Hauptfleish se grot?

Dalk het Jan Hauptfleisch sy stories ‘n bietjie aangedik, want Thorpe se grot maak die meeste sin, al is die beskrywing nie dieselfde nie – maar sal ons ooit weet?

Die nuwe vriendskappe, lekker geselsies en pragtige tonele het dit, ongeag die onopgeloste raaisel, ‘n onvergeetlike naweek gemaak.

Daar is nog baie berg oor om verder te gaan soek…