Saterdag, 13 April 2024
Deur Le Roux Kotze
Die uitstappie was aanvanklik vir Sosyskloof beplan, maar by die hek het ons gehoor dat Swartboskloof en Sosyskloof se roetes vir onderhoud gesluit is. Die vorige naweek, 6 en 7 April, is Stellenbosch en omliggende Wynland-areas swaar deur stormwinde getref. Jonkershoek was daardie naweek gesluit op grond van die weerwaarskuwings en die beplande uitroei-aksie by Eerste Waterval is gekanselleer. Ons kon gelukkig hierdie naweek na Eerste Waterval gaan om die situasie rakende die hakeas te bekyk.
Op pad na die waterval was dit nog koel en die wind sny nog deur die klere. Na ’n vinnige ontbyt by Eerste Waterval begin ons terug werk na Witbrug se kant toe. Tussen die lang gras groei die hakeas lank en dun, en word hulle nog maklik uitgetrek. Die effens groter boompies word met ’n paar saaghale afgesaag. Party het sade aan, maar gelukkig is baie van hulle sonder saad. Die hoeveelheid saad wat ons drie lede en een gas uitgedra het, het ek by die huis geweeg en 10,7 kg gekry. Die vier van ons het so vyf ure gewerk.
By die hang waar ons gestop het, is daar nog baie werk. Die hakeas naby Witbrug en teen die paadjie het ons gelos vir ‘n ander keer of vir lede wat in die verbyloop een of twee wil uittrek. Sien die gemerkte area op die kaart hieronder: 33.99484° S, 18.97727° E