Wie is ons?
Ons is ’n formele bergklub gefokus om ons lede die wonder van die berge in die Stellenbosch-omgewing te laat beleef.
Wat doen ons?
Ons verken die berge gereeld deur stap, “kloofing” en rotsklim met dag- of naweekuitstappies.
Hoekom doen ons dit?
Dit is ’n eeue-oue debat waaroor daar nog nie eenstemmigheid bereik is nie, maar wat ons wel kan sê, is dat al ons lede ’n passie vir die berge het!
Doelstelling
Die Afdeling is ’n nie-winsgewende, openbare organisasie wat gestig is om bergklim as ’n ontspanningsaktiwiteit in Suid Afrika en die res van die wêreld te bevorder. Aktiwiteite geskied op ’n amateurbasis en word beoefen op ’n wyse wat die algemene publiek tot voordeel strek en wat dit toeganklik maak vir die publiek.
Die Afdeling se doelwitte sluit die volgende in, maar is nie beperk tot ondergemelde nie:
- Om bergtogte te organiseer en te vergemaklik.
- Om toegangsreg tot berge en bergstreke te verkry, uit te brei en te beskerm.
- Om die beskerming en behoud van die natuurlike erfenis van berg- en wildernisgebiede te ondersteun en om effektiewe bewaringsbestuur van hierdie gebiede te bevorder.
- Om die veiligheid en opleiding van bergklimmers te bevorder.
- Om soek- en reddingsdienste te lewer.
- Om die studie van berggebiede, asook die bewaring van historiese en argeologiese vondste in berggebiede te bevorder, en om inligting oor berge op te skryf en beskikbaar te stel.