Die Stellenbosch Afdeling is in 1893, kort na die Kaapse Afdeling, gestig. Na enkele jare het dit egter geleidelik doodgeloop en is weer in 1953 herstig. Die geskiedenis word beskryf in die artikel van Ernst Lotz in die Joernaal no. 86 van 1983, bl.12-15, getiteld “Dertig jaar is ‘n leeftyd”.
Die eerste bestuurslede na die herstigting van die Afdeling was:
- Dr T.B. Scheffler
- Mnr E. v.d.S. Lotz (onse Ernst)
- Mnr C.A. Smith (oftewel Oom Tjaain)
- Mnr W. Martley
Die uitstappieverslag noem dat 13 lede teenwoordig was, insluitend drie van die vier bestuurslede. Oom Tjaain Smith was die leier.
Die Stellenbosch Afdeling het darem ook al ‘n opskudding veroorsaak met ‘n taalstryd. Ernst Lotz vertel in die 1983 joernaal hoe ons omsendbrief nommer 3 se bergklubwapen op die voorblad die eerste een met Afrikaanse bewoording was! Ek haal aan:
“Omsendbrief nommer 3 het skaars in Kaapstad grondgevat, of die duiwel was los. Afrikaans op die wapen! Ongehoord, onvanpas, en totaal onaanvaarbaar!”
Die volgende Sentrale Bestuursvergadering het ‘n hewige debat uitgelok, maar op die ou einde het Afrikaans op die wapen wel die groen lig gekry!