UITSTAPPIE SAAM MET BERG- EN TOERKLUB
2-3 Maart 2024
Die uitstappie was die eerste gesamentlike uitstappie saam met die Universiteit van Stellenbosch se Berg- en Toerklub (BTK) in ‘n hele paar jaar. Die doel van ons BTK samewerking is om jongmense aan ons klub bloot te stel en dus so jonger lede na die Bergklub toe te bring.
Die oggend van die stap ontmoet 5 lede, 2 voornemende lede en 9 BTK lede mekaar by Nuweland Bosboustasie. Die op stap verloop vlot tot by Hiddingh Buttress. Hier begin die roete interessant raak, maar almal klouter lekker – lyk my die ‘Climber’s friend’ bosse pla die studente meer as die klouter of die afgronde. Op die split bo Hiddingh Buttress se klofie vat ons nog ‘n ruskans om die meeste van die uitsig oor die Kaapse vlaktes te maak. Dis hier waar die Ferny Dell variasie van die gewone roete skei, met die variasie wat aan beweeg oor ‘n nou lysie in ‘n pragtige beboste kloof in. Die klouters in die klofie wat gewoonlik so bietjie nat is, is kurkdroog en vol blare, is pragtig en sorg vir groot opwinding.
Ek vra toe vir Alicia, die BTK sosiale sameroeper, of dit die tipe uitstappie is wat hulle ‘Avontuur uitstappies’ noem. Sy lag net en sê, “nee hulle avontuur uitstappies is meer iets soos om te gaan branderplank ry.” Ek is bly ons kon vir hulle ‘n avontuur van ‘n ander soort gee.
Na ‘n lang ruskans by die Pulpit beweeg ons na die bokant van Ascension Ravine, waar almal hulle gate uit geniet op die klouter wat jou tot bo neem. Bo besluit ons toe om Carrel’s Ledge te doen. Die het ‘n paar asems weg geslaan, maar ook vir mooi uitsigte en fotos gesorg.
Na middagete kom die deel waarvoor almal gewag het – die abseil by Ledges. Slegs een van die studente het al geabseil, so ons moes mooi kyk dat almal reg opgestel is. Na nie te lank, en ‘n bietjie van roete af stap, kom ons by die mesrug bo Els Ravine uit en van hier volg ons die paadjie vining tot by die bokant van Newlands Ravine. Hier besluit ons om by Dark Gorge af te gaan.
Die studente het die abseil so geniet dat hulle vir nog ‘n abseil geleentheid vra en ek belowe ons kan kyk vir ‘n plek in Dark Gorge. By die eerste klouter deel kry ek ‘n lekker lysie met ‘n groot boom vanwaar ons toe die hele groep laat abseil. Daar was seunuwees, maar almal kom veilig onder.
Van hier was dit ‘n vinnige stap tot by die kontoerpad en dan af na Nuweland, waar ons ‘n verskeidenheid verversings by die Fire Truck koffiestalletjie kry.
’n Lang, maar lekker dag, waar ons alles moontlik uit die roetes uit gekry het.