Twee-dag dwarsdraf in Heksrivierberge, 9 – 10 Desember 2023
Deur Christoff Truter
Ek wag al jare om Perry’s Refuge in die Heksrivierberge te sien en te beleef. Die oorspronklike skuiling is in 1957 gebou na die afsterwe van Ron Orton in die nabye area tydens ‘n sneeustorm. Die groep het gekamp waar Perry’s Refuge nou staan, maar koue weer het toegeslaan en die tragedie het gebeur tydens hulle poging om uit te stap.
Ons het Saterdag 9 Desember 2023 op die Eselbank plaas buite Ceres begin en koers ingeslaan na Buffelshoekpiek via Milnervlakte. Die meeste van die dag was in die wolke met lae sigbaarheid. Buffelshoekpiek se piekregister het maar min inskrywings wat my opnuut laat besef hoe bevoorreg ons is om daar te kan staan, al kan ons niks deur die mis sien nie.
Avenza, Garmin en die Here se genade het ons veilig deur die digte wolke oor blootgestelde stukke berg tot by Perry’s Refuge gekry. Die skuiling is knap maar lieflik en het selfs ‘n selfoonlaaier en ligte van sonpanele. Ons lees lekker deur die besoekersboek en sien ‘n paar bekende name. Nardus se inskrywing van ‘n stap deur diep sneeu vanaf Thomashut tot by die skuiling was noemenswaardig! Die aand was verbasend koud en my donsslaapsak was net warm genoeg. As dit so koud is in hoogsomer in die hut wonder ek hoe dit in die winter moet voel? Die noodkrat in die skuiling het lekker kos in, maar geen komberse nie. Dalk iets om saam te neem en daar te los as iemand ekstras het wat by die huis lê.
Die oggend sien ons dat die wolke ietwat gelig het en ons word bederf met pragtige uitsigte oor die Buffelshoekvallei, volgens my van die mooiste berge in die Boland. Die plan was om by Buffelsdome se mesrug ‘n draai te gaan maak, maar ongelukkig moes ons die dag kortknip, want daar was ‘n werksperdatum wat by die huis gewag het.
Perry’s Refuge is ‘n wonderlike plek en moet verseker op elke bergliefhebber se lysie wees.