DIE JAARLIKSE GROOTHOEKKLOOF
17 Februarie 2024
Na`n lekker braai en saamkuier op die plaas die vorige aand, val ons om 08:00 in die pad na Matroosberg Privaat Natuurreservaat, vanwaar ons stap begin. Dis`n warm sonnige dag na die koue van`n koue front van die vorige twee dae. Dis net die regte aanmoediging vir die twee fikse jong manne in ons geledere om sommer kortpad oor Matroosberg te vat na Groothoek se nek aan die agterkant daarvan.
Met slegs twee abseil-nuwelinge in die geselsskap, verloop die abseils voor die wind, met slegs die verwyt dat dit te gou verby is. Dat die kloof groot drama beleef het met die vier groot vloede wat gedurende die vorige jaar daardeur is, is oral sigbaar. Sommige gevolge daarvan is positief, soos dat die Cliffortia bosse wat die roete in die verlede baie moeilik gemaak het, weggespoel is. Ander gevolge is ongelukkig ook negatief, soos dat die meeste van die waterbome in die baie unieke woud in die kloof gevrek het, nadat die grond waarin hul wortels gevestig was, weggespoel het. Dis bome wat honderde jare oud was. Gelukkig het die kampplek die vloede oorleef en kon ons ons soos in die verlede gerieflik tuismaak.
Die toetrede tot die nou skeur, met die eerste abseil van die tweede dag, bly`n benoude ervaring, want soos jy daarin afsak, weet jy dat daar vir die volgende twee ure geen ontsnappingsroete is nie. Hier wag ook toe ’n verrassing vir ons. Die poele onder die twee geute is weer tot hul glorie herstel, nadat dit deur die eerste vloed met gruis opgevul was. Selfs die poel onder die Ertjie was weer diep genoeg sodat ons daarin kon spring. Met die meeste van die koulikes in die geselskap met duikpakke toegerus, is die berugte koue van die kloof geen faktor nie en kon ons die kronkelende skeur met sy torende gladgespoelde wande behoorlik bewonder.
Die res van die uitstap terug plaas toe was maklik, want die vloede het die rivierbedding so wyd oopgespoel dat daar geen bosse is wat pla nie. Selfs die brand, wat die hele berg gedurende die vorige twee weke kaal gebrand het, het min afbreuk aan die kloof self gemaak. Net die paadjie, waarvan die vloer met`n dik aslaag bedek is en met swartgebrande takke wat daaroor hang, het die gebruik daarvan onmoontlik gemaak. Nog`n heerlike Groothoekkloof uitstappie, wat ek hoop nog vir lank as`n jaarlikse uitstappie op die Bergklub se program gaan bly, was verby.
Retief Jordaan