HELL’S GATES AGTERSTEVOOR OM

9 Maart 2024

As Bergklublede ‘n Oranjekloof permit kry doen hulle gewoonlik die gewilde Hell’s Gates roete. Die roete is verskriklik mooi maar net daai bietjie te kort. Vir hierdie stap wou ek dit bietjie langer maak en besluit toe om met Frustration Gorge op te gaan, die Grootkop Geelhout dwarsstap te doen en dan by die Slangolie cutback terug in Oranjekloof te gaan en om deur Hell’s Gates af te kom.

Die roete het baie goed gewerk – om elke hoek en draai was daar ’n ander mooi te sien en die deelnemers kon elke deel vir sy uniekheid waardeer. Ek was self lanklaas in Frustration Gorge en die styl kransmure en mooi inheemse woude het al die stappers (en my) beïndruk.

Op die nek kon ons vinnig die Apostles pad kry wat ons tot by Grootkop gevolg het. Hier het ons, met ‘n bietjie huiwerigheid van die groep, die skeure aan die agterkant van Grootkop verken en toe met die Geelhout dwarstap tot aan die see se kant gestap, waar ons op ‘n pragtige rusplek middagete geniet het.

Met vol mae het die stuk tot terug tot in Oranjekloof maar lank gevoel en het ons eers ‘n ruskans geneem voor ons na die nuwe tonnel gaan kyk het. Hier het ek dalk net ‘n bietjie te lank by die nuwe tonnels af verdwyn terwyl die mense bo lank gewag het. Gelukkig het hulle het my vinnig vergewe toe ons by Hell’s Gates begin af gaan. Soos mens af kom val die kloof onder jou weg en jy kyk ver in die dieptes van die kloof af, so maak naam van die roete ook dan baie meer sin. Ongelukkig was Hell’s Gates bietjie droër as gewoonlik, maar die steeds pragtig. Die groep se asems was weggeslaan, maar dit kon ook die steiltes gewees het. Na Hell’s Gates was die dag byna om en kies ons die vinnigste pad terug.

Dit was waarlik ‘n pragtige dag in die Kaap, met lekker sonskyn, matige temperature en amper geen wind nie. Mens kon nie vir ‘n beter dag gevra het nie. Die kombinasie van roetes, veral die afkom by Hell’s Gates, sal ek graag weer op die uitstappieprogam sit.

Nardus Cronjé