Dagstap op Tafelberg, 20 Januarie 2024
Deur Leonie van Rooyen
O, die vreugde om die rooi disa – embleem van die Bergklub – in die werklikheid te sien!
Ons groep van 13 stappers (agt gaste ingesluit) het mekaar vroegoggend by Theresalaan, Kampsbaai, ontmoet en die paadjie berg-op in die skaduwee aangepak. Net voor die bokant van Kasteelspoort het Le Roux die eerste rooi disa langs ‘n stroompie vir ons uitgewys. Hierdie orgideë, Disa uniflora, wat ook die ‘Trots van Tafelberg’ genoem word, word sover bekend deur net een insek, die skoenlapper Meneris tulbaghia, bestuif.
By die ‘duikplank’ is daar ‘n hele paar nuwe profielfoto’s geneem. Daarna het ons oor die Woodheaddam se wal gestap en regs om die Hely-Hutchinsondam tot aan die bokant van Skeleton Gorge. Alhoewel dit nog voormiddag was, was dit lankal nie meer koel nie en die somerson het ons gelooi!
In die stroompie voor die Akwaduk en in die Akwaduk self was ‘n hele paar mooi disas en die aantal toe knoppe het gewys dat daar moontlik nog vir ‘n paar weke pragtige disas te siene gaan wees. Ons het in die klofie na die Akwaduk gestop en tussen die disas ons middagete geniet.
Dit is baie droog op die berg en ons het bykans geen lopende water gekry nie. Ons was bewus dat die terugstap warm gaan wees, maar ons kon gelukkig ons dors les en bottels vul by die Bergklub se hut, danksy ‘n lid wat onthou het dat daar ‘n kraan is.
Na die lang warm stap berg-af het ses van ons iets yskouds by ‘n restaurant in Seepunt gaan geniet. Dit was ‘n heerlike dag op Tafelberg en veral vir diegene wat vir die eerste keer disas gesien het, was dit ‘n belewenis.