Postberg twee-dag stap, Weskus Nasionale Park
deur Sonja Wend

As blomname soos kalkoentjie, bobbejaantjie, katstert, kalossie, ruitertjies, perskussing, kelkiewyn, tjienkerientjee, reënblommetjie, bastertrewwa, verfblommetjie en hongerblomme iets in jou roer, en jy was nie dáár nie, dan het jy ‘n kleurkaleidoskoop in een van die mooiste blomjare gemis!

Die ganse skepping het sy Weskusbates tydens hierdie redelik maklike uitstappie van sowat 25 km oor twee dae in die oortreffende trap ten toon gestel. Woeste skuimpluime op hemelhoë branders verswelg by Tsaarbank selfs die braaiplek en bankies. Elande, bontebokke, skilpaaie, seevoëls en roofvoëls deel die Postbergparadys net in Augustus en September jaarliks met besoekers.

Skemeraand teug ons op Plankiesbaai se duine aan skemerkelkies terwyl dagbesoekers die park verlaat. Die veldmuise, bosluise en uile raak skoon opgewonde as ons tentjies opslaan en ‘n braaivleisvuur aansteek met hout en rooster wat deur die parkpersoneel verskaf word.

Sommige het na die staptog nog ‘n draai deur die park gery om die enkele plate blomme te geniet en die Langebaan strandmeer vanaf die hoogste uitkykpunt te waardeer.