Jonkershoek, 22 Oktober 2023
Deur Nardus Cronje
Op 22 Oktober 2023 het die Stellenbosch Afdeling sy sewentigste bestaansjaar in Jonkershoek saam met ongeveer 45 lede and gaste gevier. Soos met baie stappe wou die weer nie met die oorspronklike plan saamspeel nie en moes ons die viering op ‘n laat stadium van Saterdag na Sondag skuif. Dit het ongelukkig beteken dat ‘n paar mense nie meer die viering kon meemaak nie. Kom Saterdag was almal verlig dat dit geskuif is, want die wind het soos ‘n orkaan deur die Jonkershoekvallei getonnel.
Die viering het met drie verskillende stappe begin en almal het min of meer gelyktydig by die nuwe helikopterdek in Jonkershoek geëindig. Die drie stappe was:
1) ‘n stap met Corné se kroos via Bergriviernek,
2) Peet en Le Roux se lei van die Yellowwood Trail en
3) Nardus se lei van ‘n Vensterkloof abseil.
Te danke aan Paul, Johann en Hans Scheffler kon ons ‘n heerlike verversings en vonkelwyn tot naby aan die dek ry. Almal het hand bygesit en vinnig was alles uitgepak.
Dit is gevolg deur die Voorsitter se toespraak waarna almal ‘n glasie vonkelwyn op die Afdeling geklink het. Die Voorsitter het ook die groot voorreg gehad om aan Paul Verhoeven erelidmaatskap toe te ken. Die viering is voortgesit met die sny van ‘n pragtige koek waarna almal nog tot laat middag heerlik aan die eetgoed en koek gesmul het.
Ongelukkig moes ons die gesellige kuier aan die voet van Pieke kortknip om betyds uit die reservaat te wees. En so is ons almal volgevreet en bietjie sonverbrand bergaf om betyds by die hek uit te wees.
Dankie aan almal wat kom saamkuier het om dit ‘n onvergeetlike dag te maak en dankie aan MTO wat gereël het dat ons die dek kon gebruik.