Wemmershoek dwarsdraf

3 Februarie 2024

Deur Dirk Immelman

Ons geselskap was vier manne sterk – Schutte, Christoph, Jackobus en ek. As gevolg van onlangse brande was die Limietberg Natuurreservaat gesluit en moes ons die beplande Slanghoek dwarsdraf na die Wemmershoekberge oorskuif.

Ons avontuur het vroegoggend by die Mont Rochelle Reservaat aan die bopunt van Franschhoekpas begin. Die vorige aand se donderstorm het die berg lekker afgekoel, maar dit was steeds ‘n bloedige warm dag. Ons het die pad na Perdekop gevolg en was aangenaam verras om ‘n effense paadjie van daar af na Wemmershoekpiek, die tweede piek van die dag, te kry. Van daar af het ons eers die grotte en skeure langs die piek verken voordat ons na Tafelberg toe beweeg het. Teen hierdie tyd was dit behoorlik warm en ons het gebid dat daar water by die vleie aan die voet van Winterberg sou wees. Ons gebede is verhoor en ons kon lekker by die vleie afkoel voordat ons die rockhopping gedeelte sou trotseer.

Hierdie gedeelte van die roete is baie tegnies en dit was nie lank daarna nie, toe trap Schutte skeef en beseer sy enkel. Ongelukkig kon hy nie verder oor die moeilike terrein sukkel nie en moes hy ‘n makliker roete na Agter-Tafelberghut neem vanwaar hy die grondpad tot by die parkeerarea sou volg. ‘n Vriend het hom later die middag by die parkeerarea kom oplaai.

Intussen het die res van ons het ‘n vinnige swempie in die rivier geneem om ons batterye te herlaai voor ons die laaste klim na Haelhoek-Sneeukop aanpak. Op hierdie stadium het Christoph al tekens van krampe getoon en kort daarna het hy op sy sy beland en van pyn gekreun. Gelukkig het Jackobus twee Renniesbyderhand gehad en na ‘n kafeïen- gelen ietsie te ete, was hy reg vir die laaste piek.

Na ‘n lang dag op ons voete, het ons Miaspoort se onderpunt ongeveer 12 ure na ons wegspring, bereik. Hierdie avontuur het ons net weer laat besef hoe groot en onherbergsaam die Bolandse berge is – ons al vier het nuwe respek vir die berge en is baie dankbaar dat die dag so groot sukses was.