Stellenboschberg Gemeenskapstap, Saterdag 27 Januarie 2024
Deur Cornè van Heerden
Op ‘n snikhete 37 °C-dag het ‘n groep van agt tiener seuns saam met stapleiers van die Stellenbosch Afdeling die uitdagende roete na die kruin van Stellenboschberg aangedurf. Die groep het vroegoggend by Eden bymekaar gekom vanwaar hulle die berg begin klim het.
Vol opgewondenheid en met ‘n huppel in hulle stap, het die seuns vinnig hoër en hoër geklim. By elke uitkykpunt is daar teruggekyk om te sien hoe ver hulle gevorder het.
Hierdie groep seuns woon in die hart van Cloetesville waar omstandighede dikwels moeilik en gevaarlik is. My doel met hierdie stap was om die seuns bloot te stel aan die pragtige natuur, maar ook om hulle die geleentheid te gee om skouers te skuur met ervare mans stappers.
Uitasem, maar baie tevrede, het ons die kruin bereik. Hier het ons ‘n lekker blaaskans geneem waar die seuns ‘n welverdiende toebroodjie geniet het terwyl hulle op Stellenbosch en Cloetesville kon uitkyk. Dit het die seuns ‘n kans gegee om te dink oor besluite en hoe besluite iemand se toekoms kan beïnvloed.
Die afstap na Coetzenburg het flink gevorder en soos die dag tot ‘n einde gekom het, het ‘n paar van die seuns gevra: “Wanneer kan ons weer gaan stap?” Dit was ‘n wonderlike bewys dat die seuns hul ervaring van die natuur en die dag waardeer het.
Nogmaals baie dankie aan al die stapleiers wat saamgekom het en die dag moontlik gemaak het – julle was ware rolmodelle vir die seuns!
.